Loading

Translations [23]

Enkelwees

Laat mens geweld teen al wat is aflê, geen enkele wese benadeel,
nie wens vir nageslag of metgesel—
wees renoster-enkel.

Uit aanraking kom aangetrokkenheid, van aangetrokkenheid kom frustrasie;
bedag op die gevaar van aangetrokkenheid—
wees renoster-enkel.

Besorg oor vriende en dierbares misken jy hartsgebonde die groot belang;
versigtig vir die benouing van klein intimiteit—
wees renoster-enkel.

Soos ’n verstrengelde bamboesbos is verknogtheid aan kind en vrou;
onverstrengeld soos ’n jong bamboesloot—
wees renoster-enkel.

Soos ’n ongetemde boshert wat kos soek waar hy wil
is die held van insig op vrywees gerig—
wees renoster-enkel.

Onder mense word jy opgeëis, of jy nou staan en rus of loop op reis;
gesteld op die vryheid deur ander verag—
wees renoster-enkel.

Onder mense word gespeel en gelag en verlang na ’n kroos;
los van die losmaak van geliefdes—
wees renoster-enkel.

Wyd oop na alle kante sonder weersin, sonder vrees vir gevaar,
aanvaar jy wat kom—
wees renoster-enkel.

Sommige monnike en leke is moeilik om mee klaar te kom;
onbekommerd oor ander se kinders—
wees renoster-enkel.

Skud die tekens van ’n huisbewoner af soos ’n ebbeboom sy blare;
held, verbreek die bande van ’n huisbewoner—
wees renoster-enkel.

As jy ’n verstandige vriend vind, ’n getroue en betroubare maat
wat voor g’n druk swig nie—
wees gelukkig en aandagtig saam met so ’n mens.

As jy geen verstandige vriend, geen getroue en betroubare maat vind nie;
dan, soos ’n vors na oorwinning hom onttrek aan ’n land—
wees renoster-enkel.

Ons prys die geluk van vriendskap en die omgang met beteres en gelykes;
by gebrek aan sulkes, sorg dat jy reg leef—
wees renoster-enkel.

Kyk hoe selfs glinsterende goue armbande fyn afgewerk deur ’n goudsmid
aan ’n arm teen mekaar kletter—
wees renoster-enkel.

Om saam met ’n tweede mens te wees bring ’n gepraat of ergernis mee;
loop vooruit op die risiko—
wees renoster-enkel.

Genot is bont en bedwelm, verruk en teister die gees in vlugtige skoonheid;
versigtig vir verstrengeling in koorde van genot—
wees renoster-enkel.

‘’n Probleem, ’n ramp, ’n ongeluk, ’n siekte, ’n pyl, ’n gevaar is dit vir my’,
versigtig vir die gevaar in die koorde van genot—
wees renoster-enkel.

Daar is koue en hitte, honger en dors, wind en son, insekte en reptiele;
deurstaan al hierdie dinge—
wees renoster-enkel.

Soos die olifant-kolos sy rug keer op die trop
en liggevlek in die woud beweeg waar hy wil—
wees renoster-enkel.

Vir ’n mens aan die massa uitgelewer is selfs tydelike ontsnapping onmoontlik;
let op die woorde van die Sonverwante—
wees renoster-enkel.

Buite die strydperk van opinies vind jy die weg en weet:
‘In my is wysheid gebore; ek word nie deur ander gelei nie’—
wees renoster-enkel.

Sonder strewe en ambisieuse geveins, sonder huigel en illusie,
sonder stut in die wêreld—
wees renoster-enkel.

Vermy ’n slegte metgesel, blind vir die waarheid, gevestig in kwaad;
ontwyk een aan valse sienings geheg en nalatig—
wees renoster-enkel.

Wees ’n vriend vir die mens van kennis wat bly by die waarheid,
edel en verstandig, wat enkelvoudig weet wat saak maak—
wees renoster-enkel.

Sonder vertoon en leuen, sonder om vervulling te soek in blote tydverdryf
of ingestel te wees op ydel genieting—
wees renoster-enkel.

Doen in die diepte afstand van behoefte aan seun en vrou, vader en moeder,
rykdom en graan en familieverwante—
wees renoster-enkel.

‘Hierdie verknogtheid: weinig die geluk daaraan, nietig die bevrediging,
groot die frustrasie— ’n vishoek in die keel’; as jy dit ervaar het en weet—
wees renoster-enkel.

Gooi die boeie af; soos ’n vis uitbreek uit ’n net in die water,
soos vuur nie teruggaan na wat verbrand is nie—
wees renoster-enkel.

Bewaak die lewensfunksies, hou wag by die gees sonder om te loer en te drentel,
te kwyl van lus en te brand van begeerte—
wees renoster-enkel.

Lê die tekens van ’n huisbewoner af soos ’n koraalboom sy blare;
verlaat in oranje geklee die huislike lewe—
wees renoster-enkel.

Leef van bedel sonder om te swig voor smaak en gepla te word deur lus,
sonder om iemand te onderhou en gebind te wees aan familie—
wees renoster-enkel.

Lê die vyf belemmeringe van die gees af, wis alle besoedelinge uit,
stroop klewerigheid en weersin af, wees onafhanklik—
wees renoster-enkel.

Keer jou rug op die pyn en plesier van weleer en op al die lief en die leed;
word gelykmatig, kalm en suiwer—
wees renoster-enkel.

Vasbeslote om tot die diepste deur te dring, ondubbelsinnig, waaksaam,
onstuitbaar, wilskragtig—
wees renoster-enkel.

Laat afsondering en bepeinsing nie na nie, leef pal na die leer,
bewus van gevaar in bestane—
wees renoster-enkel.

Ywer ingelig, bedrewe en aandagtig vir die wegval van begeerte;
ondersoek die waarheid vasberade en energiek—
wees renoster-enkel.

Soos die leeu nie skrik vir geluide, soos die wind nie haak in ’n net,
soos die lotus nie vuil word in water—
wees renoster-enkel.

Soos die leeu magtig van tand as oorwinnaar heers oor die ryk van die diere
maar eenkant sy lêplek opsoek—
wees renoster-enkel.

Beoefen welwillendheid, gelykmatigheid, medelye, bevryding en medevreugde
en laat jou deur niks in die wêreld stuit nie—
wees renoster-enkel.

Laat vaar drif, woede en verblinding, werp die boeie af,
wees vreesloos in die oomblik van dood—
wees renoster-enkel.

Geselskap en vriendskap draai om belange; belangelose vriende is seldsaam,
want deesdae is mense vals, en slim in eie belang—
wees renoster-enkel.

Commentaries [1]