Loading

Translations [18]

Oorsprong en einde

Aldus het ek gehoor:

By geleentheid het die Deurlugtige in Savatthi gewoon, in Pubbarama, die paleis van Migaramatu. Die aand van Uposatha (die vyftiende, die volmaandag), het die Deurlugtige omring van ’n groep monnike gesit. Die Deurlugtige het na die groep monnike gekyk terwyl hulle in stilte sit, en gesê:

‘Monnike, as iemand sou vra wat die nut daarvan is om na die leerstellinge—so geskik, so edel, so verlossend, so suiwerend—te luister, moet julle soos volg antwoord:

“Dit is om die pare van leringe te verstaan.”’

‘Watter pare?’

‘Dit is verdriet; en dit is die oorsprong van verdriet—dit is een insig; dit is die einde van verdriet; en dit is die weg wat lei na verdriet se einde—dit is ’n tweede insig.

Wie nie weet van verdriet
en die oorsprong van verdriet
en waar verdriet volkome en volledig tot ’n einde kom
en van die weg wat lei tot die einde van verdriet nie

het geen vryheid van gees
en geen bevryding deur kennis
en geen vermoë om ’n einde te maak nie
en hou net aan met gebore-word en sterf.

Wie weet van verdriet
en die oorsprong van verdriet
en waar verdriet volkome en volledig tot ’n einde kom
en van die weg wat lei tot die einde van verdriet

het vryheid van gees
en bevryding deur kennis
en die vermoë om ’n einde maak
en hou nie aan met gebore-word en sterf nie.

Monnike, as ander sou vra:

“Kan daar ook op ’n ander manier reg na die pare gekyk word?,” moet julle soos volg antwoord:

“Daar kan.”’

‘Hoe?’

‘A1 die ellendes kom uit verknogtheid—dit is een insig; as gevolg van die volkome beëindiging van al die verknogtheid ontstaan verdriet nie—dit is ’n tweede insig. ’n Monnik wat die pare reg bly betrag, waaksaam, vasberade en doelgerig, kan een van twee uitkomste te wagte wees: kennis hier en nou, of—as daar nog ’n res van lewensdrif oorbly, die staat van een wat nie terugkeer nie.’

So het die Deurlugtige, die Welgekome, die Meester gesê, en vervolg:

‘Uit die grond van verknogtheid
groei al die aardse ellendes veelvormig.
Dom skep die dwaas verknogtheid
en ondergaan ellende oor en oor.
Dus, van die begin en die groei van ellende bewus
sal die wyse verknogtheid nie skep nie.

Monnike, as ander sou vra:

“Kan daar ook op ’n ander manier reg na die pare gekyk word?,” moet julle soos volg antwoord:

“Daar kan.”’

‘Hoe?’

‘Al die ellendes kom uit onkunde—dit is een insig; as gevolg van die volkome beëindiging van onkunde ontstaan verdriet nie—dit is ’n tweede insig. ’n Monnik wat die pare reg bly betrag, waaksaam, vasberade en doelgerig, kan een van twee uitkomste te wagte wees: kennis hier en nou, of—as daar nog ’n res van lewensdrif oorbly, die staat van een wat nie terugkeer nie.’

So het die Deurlugtige, die Welgekome, die Meester gesê, en vervolg:

‘Uit onkunde kom die rondgang van oor en oor terugdraai
in die kring van geboorte en dood en bestaan hoe dan ook.
Onkunde is die groot verblinding
waaruit die lang reis spruit.
Maar wesens wat die weg na kennis afgelê het
verlaat die weg van hergeboorte.

Monnike, as ander sou vra:

“Kan daar ook op ’n ander manier reg na die pare gekyk word?,” moet julle soos volg antwoord:

“Daar kan.”’

‘Hoe?’

‘Al die ellendes kom uit emosies en wil—dit is een insig; as gevolg van die volkome beëindiging van emosies en wil ontstaan verdriet nie—dit is ’n tweede insig. ’n Monnik wat die pare reg bly betrag, waaksaam, vasberade en doelgerig, kan een van twee uitkomste te wagte wees: kennis hier en nou, of—as daar nog ’n res van lewensdrif oorbly, die staat van een wat nie terugkeer nie.’

So het die Deurlugtige, die Welgekome, die Meester gesê, en vervolg:

‘Uit emosies en wil kom elke vorm van lyding—
as hulle gestaak word verloor lyding sy basis.
Die wysste mense met die diepste insig wat weet hoe dinge werklik is
ken die gevaar en ken die end van lyding
deur die kalmering van emosies en wil
en deur die beëindiging van persepsie.
Hulle oorkom die juk van Mara,
verlaat die weg van hergeboorte.

Monnike, as ander sou vra:

“Kan daar ook op ’n ander manier reg na die pare gekyk word?,” moet julle soos volg antwoord:

“Daar kan.”’

‘Hoe?’

‘Al die ellendes kom uit bewussyn—dit is een insig; as gevolg van die volkome beëindiging van bewussyn ontstaan verdriet nie—dit is ’n tweede insig. ’n Monnik wat die pare reg bly betrag, waaksaam, vasberade en doelgerig, kan een van twee uitkomste te wagte wees: kennis hier en nou, of—as daar nog ’n res van lewensdrif oorbly, die staat van een wat nie terugkeer nie.’

So het die Deurlugtige, die Welgekome, die Meester gesê, en vervolg:

‘Uit bewussyn kom elke vorm van lyding—
as bewussyn gestaak word verloor lyding sy basis.
’n Monnik ken die geyaar
van lyding wat uit bewussyn spruit,
is met die kalmering van bewussyn
volkome gestil en bevry.

Monnike, as ander sou vra:

“Kan daar ook op ’n ander manier reg na die pare gekyk word?,” moet julle soos volg antwoord:

“Daar kan.”’

‘Hoe?’

‘Al die ellendes kom uit sintuiglike indrukke—dit is een insig; as gevolg van die volkome beëindiging van sintuiglike indrukke ontstaan verdriet nie—dit is ’n tweede insig. ’n Monnik wat die pare reg bly betrag, waaksaam, vasberade en doelgerig, kan een van twee uitkomste te wagte wees: kennis hier en nou, of—as daar nog ’n res van lewensdrif oorbly, die staat van een wat nie terugkeer nie.’

So het die Deurlugtige, die Welgekome, die Meester gesê, en vervolg:

‘Hulle wat oorrompel deur sintuiglike indrukke
deur die lewenstroom meegesleur op blinde weë strompel
se kettings is lank nie gebreek nie
maar hulle wat ten volle weet en verstaan vind vreugde in rus,
is in die sfeer van sintuiglike indrukke
volkome gestil en bevry.

Monnike, as ander sou vra:

“Kan daar ook op ’n ander manier reg na die pare gekyk word?,” moet julle soos volg antwoord:

“Daar kan.”’

‘Hoe?’

‘Al die ellendes kom uit sensasie—dit is een insig; as gevolg van die volkome beëindiging van sensasie ontstaan verdriet nie—dit is ’n tweede insig. ’n Monnik wat die pare reg bly betrag, waaksaam, vasberade en doelgerig, kan een van twee uitkomste te wagte wees: kennis hier en nou, of—as daar nog ’n res van lewensdrif oorbly, die staat van een wat nie terugkeer nie.’

So het die Deurlugtige, die Welgekome, die Meester gesê, en vervolg:

‘Die monnik wat weet dat enige sensasie
—hetsy innerlik of uiterlik gevoel, hetsy van plesier of van pyn of van nóg-plesier-nóg-pyn—
lyding is: ’n illusie, bestem om uit te rafel,
en wat verval weer en weer ervaar en aanskou het, is beheptheid kwyt,
is deur die vernietiging van sensasies
volkome gestil en bevry.

Monnike, as ander sou vra:

“Kan daar ook op ’n ander manier reg na die pare gekyk word?,” moet julle soos volg antwoord:

“Daar kan.”’

‘Hoe?’

‘Al die ellendes kom uit smagting—dit is een insig; as gevolg van die volkome beëindiging van smagting ontstaan verdriet nie—dit is ’n tweede insig. ’n Monnik wat die pare reg bly betrag, waaksaam, vasberade en doelgerig, kan een van twee uitkomste te wagte wees: kennis hier en nou, of—as daar nog ’n res van lewensdrif oorbly, die staat van een wat nie terugkeer nie.’

So het die Deurlugtige, die Welgekome, die Meester gesê, en vervolg:

‘’n Man wat hand om die lyf met smagting loop
beweeg eindeloos lank van een bestaan in ’n ander een in,
ontsnap aan die kringloop nie.
Maar ’n monnik wat weet
hoe lyding dreigend uit smagting peul
sal in sy swerwe aandagtig wees—sonder smag, sonder kleef.

Monnike, as ander sou vra:

“Kan daar ook op ’n ander manier reg na die pare gekyk word?,” moet julle soos volg antwoord:

“Daar kan.”’

‘Hoe?’

‘Al die ellendes kom uit verknogtheid—dit is een insig; as gevolg van die volkome beëindiging van verknogtheid ontstaan verdriet nie—dit is ’n tweede insig. ’n Monnik wat die pare reg bly betrag, waaksaam, vasberade en doelgerig, kan een van twee uitkomste te wagte wees: kennis hier en nou, of—as daar nog ’n res van lewensdrif oorbly, die staat van een wat nie terugkeer nie.’

So het die Deurlugtige, die Welgekome, die Meester gesê, en vervolg:

‘Uit verknogtheid kom bestaan,
wie bestaan ly en wie gebore is sterf—
dis die geboorte van lyding!
Die wyses volkome in kennis
weet hoe verknogtheid gestaak en geboorte verhoed word,
ontgaan hergeboorte.

Monnike, as ander sou vra:

“Kan daar ook op ’n ander manier reg na die pare gekyk word?,” moet julle soos volg antwoord:

“Daar kan.”’

‘Hoe?’

‘Al die ellendes kom uit ooreising—dit is een insig; as gevolg van die volkome beëindiging van ooreising ontstaan verdriet nie—dit is ’n tweede insig. ’n Monnik wat die pare reg bly betrag, waaksaam, vasberade en doelgerig, kan een van twee uitkomste te wagte wees: kennis hier en nou, of—as daar nog ’n res van lewensdrif oorbly, die staat van een wat nie terugkeer nie.’

So het die Deurlugtige, die Welgekome, die Meester gesê, en vervolg:

‘Uit ooreising kom elke vorm van lyding—
as ooreising gestaak word verloor lyding sy basis.
’n Monnik ken die gevaar
van lyding wat uit ooreising spruit;
ontspanne en bevry daarvan
skakel hy die drang na bestaan uit en kalm van gees
deurbreek hy die kringloop van hergeboortes,
word nooit weer herbore.

Monnike, as ander sou vra:

“Kan daar ook op ’n ander manier reg na die pare gekyk word?,” moet julle soos volg antwoord:

“Daar kan.”’

‘Hoe?’

‘Al die ellendes kom uit voeding—dit is een insig; as gevolg van die volkome beëindiging van voeding ontstaan verdriet nie—dit is ’n tweede insig. ’n Monnik wat die pare reg bly betrag, waaksaam, vasberade en doelgerig, kan een van twee uitkomste te wagte wees: kennis hier en nou, of—as daar nog ’n res van lewensdrif oorbly, die staat van een wat nie terugkeer nie.’

So het die Deurlugtige, die Welgekome, die Meester gesê, en vervolg:

‘Uit voeding kom elke vorm van lyding—
as voeding gestaak word verloor lyding sy basis.
’n Monnik ken die gevaar
van lyding wat uit voeding spruit
en ken alle vorms van voeding (maar is aan nie een verslaaf nie),
en weet as onsuiwerhede uitgeskakel word sal gesondheid volg
en sal hy met insig dien, vas in die waarheid staan en die hoogste bereik—
en nie deel wees van die gewone patroon nie.

Monnike, as ander sou vra:

“Kan daar ook op ’n ander manier reg na die pare gekyk word?,” moet julle soos volg antwoord:

“Daar kan.”’

‘Hoe?’

‘Al die ellendes kom uit opgewondenheid—dit is een insig; as gevolg van die volkome beëindiging van opgewondenheid ontstaan verdriet nie—dit is ’n tweede insig. ’n Monnik wat die pare reg bly betrag, waaksaam, vasberade en doelgerig, kan een van twee uitkomste te wagte wees: kennis hier en nou, of—as daar nog ’n res van lewensdrif oorbly, die staat van een wat nie terugkeer nie.’

So het die Deurlugtige, die Welgekome, die Meester gesê, en vervolg:

‘Uit opgewondenheid kom elke vorn van lyding—
as opgewondenheid gestaak word verloor lyding sy basis.
’n Monnik ken die gevaar
van lyding wat uit opgewondenheid spruit,
en omdat hy dit laat vaar en emosies en wil kalmeer
sal hy in sy swerwe aandagtig wees—sonder lus, sonder gryp.

Monnike, as ander sou vra:

“Kan daar ook op ’n ander manier reg na die pare gekyk word?,” moet julle soos volg antwoord:

“Daar kan.”’

‘Hoe?’

‘’n Afhanklike mens is onseker—dit is een insig; ’n onafhanklike mens is nie onseker nie—dit is ’n tweede insig. ’n Monnik wat die pare reg bly betrag, waaksaam, vasberade en doelgerig, kan een van twee uitkomste te wagte wees: kennis hier en nou, of—as daar nog ’n res van lewensdrif oorbly, die staat van een wat nie terugkeer nie.’

So het die Deurlugtige, die Welgekome, die Meester gesê, en vervolg:

‘’n Onafhanklike mens is nie onseker nie,
maar ’n afhanklike een gryp na een of ander vorm van bestaan
en ontsnap aan die kringloop nie.
’n Monnik ken die gevaar,
die groot bedreiging van afhanklikheid
en sal in sy swerwe aandagtig wees—maar nie afhanklik en nie vas nie.

Monnike, as ander sou vra:

“Kan daar ook op ’n ander manier reg na die pare gekyk word?,” moet julle soos volg antwoord:

“Daar kan.”’

‘Hoe?’

‘Vormlose dinge is rustiger as vorms—dit is een insig; beëindiging is rustiger as vormlose dinge—dit is ’n tweede insig. ’n Monnik wat die pare reg bly betrag, waaksaam, vasberade en doelgerig, kan een van twee uitkomste te wagte wees: kennis hier en nou, of—as daar nog ’n res van lewensdrif oorbly, die staat van een wat nie terugkeer nie.’

So het die Deurlugtige, die Welgekome, die Meester gesê, en vervolg:

‘As mense van beëindiging nie weet nie
(of hulle nou met vorm beklee of in vormloosheid tuis is)
keer hulle na herhaalde bestaan terug,
maar as hulle vorm verstaan, in vormloosheid nie bly staan nie
en deur beëindiging bevry is
laat hulle die dood agter.

Monnike, as ander sou vra:

“Kan daar ook op ’n ander manier reg na die pare gekyk word?,” moet julle soos volg antwoord:

“Daar kan.”’

‘Hoe?’

‘Wat die wêreld met insluiting van gode en van Mara, wesens met insluiting van swerwers en brahmane, gode en mense as waar aanvaar, dit ken die wyses as illusie—dit is een insig; wat die wêreld met insluiting van gode en van Mara, wesens met insluiting van swerwers en brahmane, gode en mense as illusie aanvaar, dit ken die wyses as waar—dit is ’n tweede insig. ’n Monnik wat die pare reg bly betrag, waaksaam, vasberade en doelgerig, kan een van twee uitkomste te wagte wees: kennis hier en nou, of—as daar nog ’n res van lewensdrif oorbly, die staat van een wat nie terugkeer nie.

So het die Deurlugtige, die Welgekome, die Meester gesê, en vervolg:

‘Mense sien substansie waar geen substansie is nie
en aanvaar as waar dat daar ’n wêreld van mense en gode is vas geanker
in die genoegsaamheid van afsonderlike naam-en-vorm—
maar wat hulle bedink is vals,
‘ n illusie-verskynsel verganklik-kortstondig.
Wyses ken wat nie illusionêr verskyn nie nibbana
en is deur insig in die waarheid volkome gestil en bevry.

Monnike, as ander sou vra:

“Kan daar ook op ’n ander manier reg na die pare gekyk word?,” moet julle soos volg antwoord:

“Daar kan.”’

‘Hoe?’

‘Wat die wêreld met insluiting van gode en van Mara, wesens met insluiting van swerwers en brahmane, gode en mense as geluk aanvaar, dit ken die wyses as ellende—dit is een insig; wat die wêreld met insluiting van gode en van Mara, wesens met insluiting van swerwers en brahmane, gode en mense as ellende aanvaar, dit ken die wyses as geluk—dit is ’n tweede insig. ’n Monnik wat die pare reg bly betrag, waaksaam, vasberade en doelgerig, kan een van twee uitkomste te wagte wees: kennis hier en nou, of—as daar nog ’n res van lewensdrif oorbly, die staat van een wat nie terugkeer nie.’

So het die Deurlugtige, die Welgekome, die Meester gesê, en vervolg:

‘Vorms, klanke, smake, geure, aanrakings is almal heerlik begeerlik
solank hulle hou, word erken.

Wesens van die gode- en mensewêreld, julle sien hulle daarwees as gelu
en hulle ophou as verdriet.

Lynreg teen die ganse wêreld-siening beskou die edeles geluk
as die liggaam se ontbinding.

Wat die res geluk noem, noem die edeles verdriet,
wat die res verdriet noem, noem die edeles geluk—
kyk, dié saak is moeilik te verstaan en laat onkundiges verward;

die waarheidsweg lê helder sigbaar oop voor die wat skerp kan sien
maar blindes in donker duisternis gehul, herken dit nie
al lê dit baie naby.

Tensy jy deur hierdie leer verhelder is
gaan jy—deur die drang van wees oorrompel
en in die stroom van wees gesuig—
die ryk van Mara in.

Wie anders as die edeles verdien die staat van volle wete
en is, omrede van dié volmaakte kennisstaat,
sonder onsuiwerheid geheel gestil?’

Aldus het die Deurlugtige gesê. Die monnike het met vrolike gees die Deurlugtig se woorde aanvaar. Terwyl hierdie uiteensetting aan die gang was, is sestig monnike se geeste van die smette bevry, sonder enige verknogtheid.

Commentaries [1]